Share yourMemories

Welcome to the heart of our community’s shared history. This special corner of our museum’s website is dedicated to you—the voices and memories of those who have grown up in the Ceres area, as well as those who hold dear memories connected them with our Valley.  May the stories and memories you encounter here inspire and encourage you to add to your OWN STORY and MEMORIES.

We believe that every story, every recollection, forms an essential part of our community’s collective memory. By sharing your experiences, you not only preserve the unique essence of what it means to be part of this community, but you also contribute to a living archive that educates, inspires, and connects us all. We invite you to share your memories, big or small, and help us celebrate the stories that make our community truly unique.

Please send us your story and if you have photographs, or any visual materials, please feel free to add them along with your written memories. Our e-mail: info@ceresmuseum.co.za

Anna-Marié Heyns (Brink) - Ceres Herinneringe
Elsabe Harmse nee Bruwer - Grootword jare in Ceres
John Schuurman se onthou
Kosie Jansen onthou... Ceres
McDonaldstraat Herinneringe
Porterstraat Herinneringe
Retha van den Heever (neé Wagener) - Ceres herinneringe
Vos Street Memories

Ek het in 1953 my skoolloopbaan op Ceres in Laerskool Gericke begin. Ek en my 2 broers, Hannes en Schalk, het in my oupa, Schalk Pienaar se tuishuis geloseer, regoor die laerskool in Owenstraat. Vandag is daar ‘n tuin waar die huis was.

Ek onthou die akkerbome waar kinders sakke vol akkers opgetel het om te verkoop vir varkkos. En leivore met helder, skoon water  waarin ons op en afgehardloop het.

Aan die westekant van Luyt se winkel was daar die plek waar jy lekkers kon koop. Daar was ‘n glastoonbank en al die lekkers was daarin. Vir 1 pennie kon jy 4 “nigger  balls” kry of een van daardie groot plat lekkers wat ons heuningkoek genoem het.’n Roomys het ‘n tiekie gekos. Ons het egter nie baie pennies of tiekies gehad nie

Die biblioteek was deel van die stadsaal se gebou; links op die stoep was 2 vertrekke. In die eerste vertrek was die kinderboeke en die biblioteektannie se tafel Die tafel was groot genoeg vir al haar administrasiewerk. Die boeke wat geskik was vir ‘n sub A’tjie het ‘n halwe rak beslaan.

In die agterste vertrek was grootmensboeke. Ek het nie juis daar gekom nie. Vir ‘n halfkroon kon jy by die biblioteek aansluit en 2 boeke op ‘n slag uitneem.

Van standerd 1 af moes ons  fietsry, want ons het musieklesse by Antie Mice (Mev. Crafford) geneem en sy het onder in Paddavlei in Du Toitstraat gebly. En ons moes die padreëls ken en gehoorsaam, want daar was Lucky. Hy was die “spietkop”. En dit was baie gevaarliker as ‘n verkeerskonstabel. Jy moes links hou as jy ry; ons moes agtermekaar ry; ons moes handseine gee en stop by ‘n stopstraat. Vir enige oortreding is jy met 2 sjielings beboet en dit was ‘n fortuin!

Fietse is nie gesteel nie. Jy kon dit enige plek langs die straat parkeer en daar het dit gebly.

In 1955 het ons Staffstraat toe getrek. Die onderste deel van die straat was nie ‘n straat nie. Dit was ‘n ongeskraapte tweespoorpaadjie. Daar het ons in Engels leer krieket speel. Die prokureur, Johan Krige, het langs ons gebly en sy seun, Garfield, het vir ons geleer van “wickets, innings, bowl, catch” ensovoorts. In daardie einste tweespoorpaadjie.

Ons het in die bos gespeel. Dit was nie gevaarlik nie.

In die skool is ons geskei van die Engelse kinders. Hulle was in 2 Engels-mediumklasse en het nie eens met ons gespeel nie. G’n wonder Engels was vir ons soos die anti- chris nie – gevaarlik en onbekend.

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde, want daardie berg…hy’s rotsvas en vir altyd.

ELSABé HARMSE (NEé Bruwer) se onthou oor haar kinderjare op Ceres. Hulle was woonagtig in Plantasiestraat 10

Onthou jy??

Onthou jy kindwees in Ceres?, Die Dennebos, Blougat, Witels?

Dit was die mooiste tyd.

Die akkerbome wat soos rye soldate weerskante van die pad staan. Middae as ons van die skool af huis toe stap,  hardloop ons van boom tot boom, omdat ons voete brand op die warm teer. En ons op ons tasse sit en gesels, ons was glad nie haastig huistoe nie.

Ons Mamma’s was tuis, die voordeur en agterdeur wawyd oop.

Die lekker swem as ons huiswerk klaar was in Die Bos se groot swembad. Ons het altyd gepraat van die Olimpiese swembad, ek wonder…is dit n Olimpiese swembad?

Dit het net 5c gekos!

Desember maande was die lekkerste want dan het die mense van die Kaap kom kamp. Ek onthou n Nederlandse gesin met die van Bus. Die dogter, Berthaen as ek reg onthou haar broer, Kees.

My pa het vir ons n tandem fiets gebou, so n rooie met wit strepies. Ons was baie trots op daardie fiets. Pappa het net een hand gehad, hy het sy linkerhand as 3jr seuntjie verloor toe hy dit in n koring meul gedruk het. Pa was die beste motorwerktuigkundige ooit!

Onthou jy laataande se toktokkie speel en wegkruip in die voor?

Ou Jare wat ons wegjaag omdat ons “prank calls” maak by die “tiekiebox” by die swembad.

Onthou jy hoe dit voel om in n varsgeplukte perske te byt dat die sop so spat?

Hoe ons mekaar met snot-appels gooi? Nou hoor ek dis persimmons en nogal duur.

Die azaleas en ponsettias wat so mooi kon blom.

Belmont Hotel se dieretuin waar ons die bobbejaan kon terg?

Kleilat gooi en swaai aan die treurwilger by bie laagwater brug?

Onthou jy?..

Onthou jy kindwees op Ceres?….

 

JOHN SCHUURMAN ONTHOU


PAUL PERES

Wyle Oom Paul, ook afkomstig van Wupperthal, was ‘n entrepreneur wat sy eie busdiens begin het in tye wat die kommersiële banke nie so maklik lenings aan minderbevooregte sakemanne toegestaan het nie. Behalwe sy busdienste het hy ook danse by sy werf daar in Die Gat woonbuurt gehou vir ekstra inkomste.

Ek het as hoërskoolleerling met sy busse gereis vanaf die CFP fabriek waar ons gebly het tot by die destydse Ceres Sekondêre Skool in Lyellstraat.

Ons het die bus wat sy dogter Annie bestuur het sommer “Kieste” gedoop. Wyle Oom Paul het geen keuse gehad as om sy busse self op die pad te hou nie. Baie kere moes ‘n enjin oornag uitgehaal en herstel word en weer terug sodat die bus moreoggend kan loop.

‘n Stukkende flikkerlens is soms tydelik met die deksel van ‘n Doomblikkie vervang. Oorlewing was die wagwoord.

Die busmaatskappy is later met die hulp van die seuns Plom, Paulie en Koos uitgebou tot ‘n toonaangewende besigheid in Ceres en Distrikte gemeenskap.

Oom Paul kon met sy sterwe ‘n stewige nalatenskap aan sy nageslag agterlaat.

 

OOMPIE JOHNNY (KEF)  EN SY BROER PAUL PERES

Hierdie twee broers is altwee afkomstig van Wupperthal en het groot impak kom maak in Ceres.

Wyle Kef Peres was ‘n bouer wat verskriklik charismaties was en jou baie maklik om sy puntjie kon draai. Hy het ‘n baie goeie hart gehad en het baie keer meer gedoen vir sy kliënte as wat sy betaling regverdig het, te veel dikwels was dit tot sy nadeel.

Oompie Johnny Peres en sy goeie vriend Wyle Oom George Vergotine het altyd vertel van Nuweplaas se lekker heuningbier. Wyle Oom George Vergotine het altyd met ‘n traan in die oog vertel hoe lekker die heuningbier skop en dat die bye jou nog altyd die volgende more steek as die son uitkom.

Soos hulle vertel het as mens nou oor die berg in die Koue Bokkeveld ry na Wupperthal benodig jy ‘n sterk hart en ‘n 4×4 om oor die styl heuwels, berg en afdraande te ry. Ons het dan elke keer gesweer dat ons een dag saam sal gaan kuier sodra ek my eie 4×4 ryding sou kry. Nodeloos om te sê, omdat ek nooit tyd gemaak het nie, ongeag verskeie bakkies (ook 4×4)  het dit nooit gebeur nie.

Oompie Kef was baie lief vir spot en terg en kon mens nie anders as om sy aansteeklike laggie te volg wanneer hy sy gebruiklike grappies vertel het nie.

Hy was verskriklik lief om sy Whiskey met melk te drink, sodat ons hom sommer later gedoop het as die “Man van die land van melk en Whiskey”.

Hy het later en tot en met sy sterfte in Die Gat woonbuurt in Morrisdale gebly.

“Ek loop vanaf die treinspoor soos jy die dorp uitgaan. Ek sien met my geestigsoog  op linkerkant vir Wieldraai, aan my regterkant die droog skoonmakers , nog n bietjie AF sien ek die Herberg, nog n ENT AF sien ek vir Gees Supermark , nog n ENT AF sien ek die speurdershuise ,  aan my linker kant sien ek die Majestic hotel , daar in die ry van Ceres Viswinkel sien ek vir Milky Bar kafee. Regoor die verkeersligte  sien ek Abraham’s winkel , oor die pad sien ek vir Sammie Baum winkel, ‘n entjie AF sien ek Van Wyk kafee , oor die pad sien ek Derellis Winkel ,  nog n ENT AF sien ek Barclays bank , oor die pad sien ek vir Bauman’s Winkel , oor die brug sien ek die bioskop op die stoep , Min of meer waar Gaaitjie in die Muur nou is, was n Pep store Winkel , oor die pad was Uitspan kafee, oor die pad was Foshini  en dan opper was Ceres Apteek. Nog opper was  Luyt winkel . Dit is Soos Ek Kan onthou.

McDonaldstraat 1Troula Goosen (nee Venter)

Die Darellise wat die winkel gehad het, het oorkant ons gebly. En oorkant die stopstraat was Oom Schalk en tannie Bettie Wilson. Hy was Bauman se bestuurder. Langs ons was die Vrymesselaarsaal en aan die ander kant ‘n oop erf met perskebome. Dit was in die sestigerjare toe my pa, JP Venter, die hoof van Laerskool Gericke was.

McDonaldstraat 1 : Suzanne Schreve

Ek het grootgeword in McDonaldstraat 1 en my ouers Mossie en Tertia McKnight Botha  bly nou nog daar. Ons het oorkant Stephen McGregor gebly toe hy daar gebly het! Oom Gys du Toit het skuins oorkant ons gebly en die Bassons (Bennie, Danie, Heinie, Jaco en hul ouers)  het langs ons gebly. Die Vrymesselaarsaal was langs ons aan die ander kant, maar dis nou die Shofar Kerk.

 

McDonaldstraat 4: Stephen McGregor

My oupa en ouma Darellis het in MacDonald str 4 gebly. Basil Darellis bly nou nog daar.

 

McDonaldstr : Remeurus Rademan

Skuinsoorkant oorlede mnr Venter se huis met groot grasperk voor.

 

McDonaldstraat 8: Giancarlo Bassi

McDonald st.8 was ons eerste huis toe ons van Chile af gekom het in 1976. Ons het langs Oom Dofie Rademan gebly. Skakel huis. Ons Pa’s het by Belmont Hotel gewerk. Good old days

 

 

Porterstraat 2: Ronni Mileham ( Sieberhagen)

Ons “bure” was die NG Kerk, die Joodse Kerk en dan ook die Verweys. En ek en Annette Verwey is nou nog vriende en dis nou oor die 60 jaar!

Porterstraat 8: Jonel Birch

Bewoners in Porterstraat wat ek onthou was Oom Willie en Tannie Kathleen Jonck. Mr and Mrs Peterson. Tannie Bettie van Rensburg. Al die Potgieters. Wonderlike tye.

 

Porterstraat 9: Marion Smit

Ek is in 9 Porterstraat gebore (1950) in my oupa J.P. Winterbach se huis wat hy self gebou het. Die huis bestaan nie meer nie.  Daar is nou baie huise op die erf gebou want dit was destyds ‘n kleinhoewe. Die Sauer familie het skuins oorkant ons gebly en was vriende van my Oom Calla en Kobus Winterbach. Voor die huis en langs die huis was daar net oop erwe. Ek het elke skool vakansie daar gaan kuier tot my oupa en ouma oorlede is. Wonderlike kinderjare.

 

Porterstraat 34: LB Sauer

Gebore daar, intussen het ek al 15 ander huise gehuur in Ceres. My ouers in ouetehuis, ek trek eersdaags terug na Porterstraat 34, Home sweet home.

Ons het eers by die DFB ( Sagtevrugte Raad se depot, oorkant Ceres stasie) gebly waar die boere pak materiaal kom haal het vir verpakking.  Ons huis was basies op die hoek langsaan waar JC Services nou is.

Al die store het verpakking geberg.  Bale Houtwol, dan die riffel karton, die kartondose was platgevou in hoeveelhede van 20 of so iets, en daar was kassies maar die werkers moes dit aan mekaar timmer. Daar het soos ‘n breë treinspoor tussen die 1ste en 2de ry store geloop waarop ons met so ‘n tipe waentjie met treinwiele rondgespeel het. En ons het baie gaan huise bou en wegkruipertjie speel in die store. Na die 1ste aardbewing het ons in die 2de stoor ingetrek en daar gebly tot hulle vir ons die sinkhuisie opgesit het.

Later het ons in Potgieterstraat nr 3 (h/v Potgieter en Du Toitstrate) gewoon. Langs ons was oom Johnnie en tannie Wiesa (hy het by Ford gewerk), oorkant in Du Toitstraat, oom Johan en tannie Engela Smit (Marietha) en agter ons die Krieglers (oom Ben).  Juffrou Crafford (musiek Laerskool Gericke) het omtrent 3 huise van ons af in Du Toitstraat gebly en mnr Louw nog verder af. Kan nog redelik die mense van Du Toitstraat onthou. Die Visagies (oom Schalk met sy groot trokke, Schalk jnr, Ernie, Ohna), die Meyers (Antoinette), die Moutons …. goeie ou jare 

Ouers Appie en Tina Wagener, Eliana, Francois en Retha.

My pa Appie, altyd so gesit wanneer hy ‘n vleisie braai, plat voet. En die groen Zephyr.

  

 

Marietjie van der Merwe, vriendin van my suster Eliana Wagener.

 

Jos Kahn Vos street

We lived on the eastern side of Vos Street. In the middle if the block between the Main Street and Pretorius Street, from 1944 till 1959. My first memory was that of 3 houses in that area.

 Our neighbour in the southern side was Gert van Wyk, better known as Gert Vaatjie, and opposite him where the ‘market’ is, was a house which belonged to St Andrews Church.  Where Dunlop Tyres is and where the police station is, were opens spaces. The corner site where part of the Shoprite complex is, was also open ground. In the middle 50’s Havengas Garage built their showroom and filling station on the corner, with their workshop entrance in Vos Street. They moved there from their premises where Jet is now located. They were the

General Motors (Chev, Pontiac, Opel, Vauhall, Oldmobile, Buick, GMC, Bedford and Cadellac ) dealers. 

Alongside them in the Main Street was the Majestic Hotel. It was a double story building, with the bedrooms upstairs and the public rooms (lounge, dining room, bars and bottle stores) downstairs. Looking at the property from the front, the bars and bottle stores were on the right hand side of the building, When one walked through the entrance to the hotel, and went to the back there was a large stoep and  beyond that, a large cement slab with a fountain in the middle,  where there was a regular dance held on a Saturday night, with a live dance band.

Heading north from the Main Street, on the western side of Vos Street was the shop I. Baum and Co. It was a square single-story building with a stoep in both streets. Behind it and on the same plot, set back from the street was the reserve store for the shop. This shop was replaced when the Main Street and Vos Street were widened. This applies to virtually all the buildings in Vos Street. It was built as a general dealer shop. The next building was a long single-story row made up of a general dealer, a butcher shop and the store and office of D. Cohen and Sons.  The building was owned by Losky Cohen. Between the Baum shop and the Cohen building there was a driveway which gave access to the back of the Cohen building where International lorries and bakkies were serviced. For my really early memory, they were agents for that make. I would assume that that was for the International tractors as well.

Opposite I.Baum was Ceres Cash Bazaar, owned by Mr Abraham Shein.  It was referred to by most of his customers as ‘Abrahams se winkel’ .   The current building with Markhams in, was also rebuilt with road widening, and was also a general dealer store. Alongside Ceres Cash Bazaar in Vos Street was J.G.Rd complex, and next to that Havenga’s Garage, before they moved to the corner where Shoprite now is. This double story property then became Jan Therons Garage.  When Jan Theron built a new garage (where the Puma pumps are now) the building was demolished & became part of the Reids complex.  

 

Vosstraat 28: Mariana Van Rooyen

Ons het dit Hamletweg genoem no 28 maar dit is Vosstraat as my geheue my nie ontgaan nie. Verskeie bure het gekom en gegaan maar die Oliviers (Nico en Annelou), die Koegelenbergs en die Sieberhagens oorkant die pad het ons nog almal mee kontak. Ek het nou al 44 jaar gelede die dorp verlaat maar onthou alles nog so goed

 

Vosstraat 10: Elaine Zimri

Vosstraat 60: Susan Jordaan

Ek en my man Jorrie het tydens die 60ger jare in Chris Venter se huis is Vosstraat gewoon.  Tydens die aardbewing is die huis ernstig beskadig

 

 

Vosstraat 12: Trudie Martin

Ons is trotse Mepomie kinders van Jacob en Hester Mepomie van Vosstraat 12

 

Phone

+27 (0)23 312 2045

Location

8 Oranje Street
Ceres, Western Cape

Hours

Monday to Thursday
8:30am - 17:00pm
Friday
8:00am - 16:00pm
Weekends and Public Holidays
Appointment Only